Foto: Danielle Swanepoel

Op die drumpel van 2020, tydens ‘n geskarrel tot bo-op die mistige Paarlberg, het ‘n idee na vore gekom: ‘n DF-Voetslaanklub.

Hierdie idee is teen die begin van Februarie deur twee graad 11-leerders, Renke Lorio en myself (Danielle Swanepoel) en met die toestemming van Avontuurklub-leier, meneer Barnard, gerealiseer. As ‘n toetsfase, is die eerste staptog slegs aan die graad 11’s voorgestel. Die reaksie van die graad was verbasend entoesiasties!

“Ek het verlig, opgewonde en gemotiveerd gevoel om die klub te laat werk en nuwe maniere te vind om dit interessant te maak,” sê Renke oor die graad se reaksie op die bekendstelling.

In die skoolbussie, bestuur deur meneer Lundie, het tien leerders na die Jonkershoek Natuur Reservaat gery om die Tweede Waterval Roete te voltooi.

“Dit was fantasties. Dit was ‘n kans om mense in ‘n baie ontspannende atmosfeer te ontmoet of beter te leer ken en ek sou enige tyd weer wou gaan,” sê Hellmuth Weich, een van die graad 11’s wat saam gestap het, tydens ‘n onderhoud.

Soos baie ander planne vir 2020, is die jaar se staproeteplan deur die grendeltydperk platgetrap. Ons hoop om weer net na die November-toetsreeks ons voete te vind en darem die jaar met ‘n opwindende roete af te sluit!

Verdere planne vir die klub se uitbreiding sluit in om as vrywilligers staproetes op te ruim – dit sal die optel van rommel en instandhouding van die roete, insluit. Daar word ook beplan om ‘n graad 10- (volgende jaar graad 11) -leerder “op te lei” en te help om ‘n stapklub vir hul graad ook te begin, sodat die skoolklub nie eindig wanneer die stigters die skool verlaat nie. Graad 10-leerders wat belangstel om moontlik hierdie posisie te beklee en graad 11-leerders wat graag ook by die klub wil aansluit, kan gerus ‘n e-pos aan dfvoetslaanklub@gmail.com stuur.

Ons sien baie uit om weer Moeder Natuur se bestes saam met nuwe en bekende gesigte te betree!