Foto: @anje_and_beelo/Instagram

Die vyftien-jarige Anje Truter verstaan die gesegde: “’n Hond is ’n mens se beste vriend,” maar in haar geval is die ‘“hond” eintlik ’n Angora-bok met die naam Beelo.

Anje se pa boer met skape en Angora-bokke op ’n plaas tussen George en Oudtshoorn, maar fokus meestal op die teel en verkoop van die Angora-bokke. Angora-bokke word hoofsaaklik vir hul wol geteel waarvan verskeie tipes klere gemaak word.

Beelo se storie het ‘n bietjie meer as twee jaar gelede op ’n hartseer noot begin. Sy ma was op sterwe en op pad om te lam. Waar daar ’n nuwe lewe gebore is, het ‘n ander een ongelukkig tot ’n einde gekom. Anje en haar pa het Beelo grootgemaak en hy het sy tweede verjaarsdag op 20 Julie vanjaar gevier. Hy is met ’n koek en geskenke van Anje en haar vriende, bederf.

Jong Beelo het soos ’n kind in die huis grootgeword, soms saam met Anje geslaap en soos ’n regte hond aan ’n leiband geloop. Beelo het vir Anje aangeneem as sy ma en alhoewel mense twee keer gekyk het as sy en Beelo in die straat afstap, is dié bok nog steeds haar hart se punt en verstaan haar die beste.

Anje het dit ook reggekry om vir Beelo, net soos vir ’n hond, toertjies te leer. Met ’n koekie en die woorde: “poot”, “lê”, “drukkie” en “buig”, bewys Beelo dat bokke eintlik meer intelligent is as wat baie van ons dink. Anje voel sterk daaroor. “Mense moet ophou dink bokke is onintelligent, want min mense weet hoe slim bokke eintlik is.”

Alhoewel Beelo as jong bokkie ’n stoute kêrel was, baie gordyne gekou het en selfs een keer die televisie omgegooi het, doen hy alles saam met Anje. Hy het selfs al by die Spur en Wimpy gekuier! Beelo het darem nie net mens-maatjies nie, maar is ook goeie vriende met ’n mede Angora, Fluffy, en die twee is ook onafskeidbaar. Wanneer Anje by die skool is en nie by Beelo is nie, vang hy en Fluffy baie kattekwaad aan. Die twee breek partykeer uit hul kamp uit, of knip saam ’n uiltjie in die laatmiddagson.

Anje het besluit om vir Beelo ’n bladsy op Instagram te begin om die konneksie wat sy en die spesiale bok het, vir mense te wys. Beelo is ’n goeie model en poseer graag vir foto’s. As daar ’n kamera verskyn, weet hy net hoe om te staan.

Gaan volg vir @anje_and_beelo om meer foto's en video's van die baie spesiale bok met 'n oulike persoonlikheid te sien en hom beter te leer ken. Volg hulle storie, lag saam oor Beelo se kaskenades en ervaar ’n bietjie van die plaaslewe.

'n Bok kan ook 'n mens se beste vriend wees en Anje en haar dierbare Beelo is 'n goeie span en beste vriende. Wie kan dan nou nie van dié wollerige en energieke Angora-bok hou nie?