Foto: Unsplash

Dit is geen geheim dat die kreatiewe Sci-Fi-stories van die wêreld al nuwe tegnologiese realiteite geïnspireer het nie. Van selfone (van Star Trek), hologramme en kunsmatige liggaamsdele (van Star Wars) tot kunsmatige intelligensie en digitale advertensieborde (van Blade Runner). Maar wat is die een konsep wat gereeld in Sci-Fi-stories voorkom wat net nog nie deel van ons lewens is nie? Vlieënde voertuie.

Ja, jy het reg gelees. Die tyd van vlieënde motors is om die draai en al hoe meer maatskappye spring om so gou moontlik hul weergawe van die eVTOL-model (electronic Vertical Take-Off and Landing) op die mark te kry. Die grootste bydraers tot hierdie groeiende mark sluit in: Uber, Lilium Aviation, Volocopter, Toyota, Airbus, Joby Aviation en Boeing.

Uber is by verreweg die mees ambisieuse groep met ‘n plan om ten volle kommersieel in Los Angeles en Melbourne teen 2023 te wees. Hierdie mikpunt het egter meer realisties geword toe hulle saam met Joby Aviation (wat onder die radar verbasend vinnig gegroei het) in Desember 2019 begin werk het. Uber se eerste suksesvolle toetsvlug het al in Januarie 2019 plaasgevind.

Die nuwe afdeling van hul app word Uber Elevate genoem. Volgens die Logistiese Bestuurder van die Uber Elevate-projek, Amy Liu, beplan hulle om verskillende vorme van vervoer (motors en eVTOL-voertuie) in een rit te kombineer om die verbruiker so vinnig moontlik by die bestemming, teen ongeveer $5 per myl, te kry. Die voertuig kan 5 mense vervoer en die konsep van “deelritte” (waar mense ritte deel om geld en batterykrag te spaar) word ook oorweeg. Daar is ook vooruitsigte vir die voertuie om ten volle outomaties te word, maar hierdie is nog nie goedgekeur nie.

Lilium Aviation, ‘n Duitse eVTOL maatskappy, is egter kop aan kop met Uber in die markresies. Die toetsvlugte het in Mei 2019 begin. Hierdie voertuig kan tot 300km/h vir een uur op een batterylewe vlieg en kan ook ten volle outomaties bestuur word. Lilium beplan om teen 2025 kommersieel te verkeer. Lilium se eVTOL-model het 36 enjins en kan 100 keer sagter as konvensionele lugvoertuie opstyg en land. Die Lilium-model is amper geluidloos wanneer dit horisontaal vlieg.

Met vele ander maatskappye wat almal jaag om eerste op die mark te kom, is die vlieënde taxi-bedryf ‘n vinnig-groeiende mark. Hierdie voertuie kan twee ure in stadsverkeer na ‘n agt minuut-lange rit verander, sonder om tot klank- en lugbesoedeling by te dra. Die grootste probleem waarmee elke maatskappy egter sit, is keuring van die FAA (Federal Aviation Administration) en EUASA (European Union Aviation Safety Agency) om goedkeuring, regulasies en reëls vir hierdie nuwe 3-dimensionele vorm van vervoer te gee. Daar word voorspel dat hierdie nuwe lugverkeer-reëls teen 2025 bekend gemaak sal word.

Alhoewel Back to the Future II se voorspelling met presies 10 jaar te ambisieus was, is die bekende vlieënde voertuig-konsep wel byna deel van allerdaagse stadslewe. Die vraag vir die gemeenskap bly egter steeds staan – sal jý reg wees om hiérdie nuwe normaal te aanvaar?