Foto: Unsplash

Hoe gereeld hoor ons nie die woorde nie: “Bly weg van daardie kind af, of jy sal ook dwelms begin gebruik!” Natuurlik verstaan ‘n mens die kommer oor dwelmmisbruik. Jaar op jaar leer ons meer oor die nagevolge en gesondheidsrisiko’s van dwelmgebruik en -misbruik. Natuurlik wil ouers hul kinders teen die newe-effekte daarvan beskerm.

Is die verwerping van dwelmverslaafdes egter die regte benadering tot die probleem? As ons gou vinnig ‘n oomblik neem en nugter oor die saak dink, moet die eerste vraag wees: “Hoekom? Hoekom is hierdie persoon besig om dwelms te gebruik as hulle weet wat die nagevolge kan wees? Sekerlik sal niemand by hul gesonde verstand ‘n middel neem wat hulle weet hulle kan skade doen nie?”

‘n Term wat gereeld voorkom in sielkunde, is die woorde coping mechanism. Die term word gebruik deur sielkundiges om te verwys na iets wat ‘n persoon help om nie in ‘n situasie kop te verloor nie. Vir sommige mense is dit iets soos draf of intense fisieke oefening om van frustrasie ontslae te raak. Vir ander mense is dit musiek speel. Ander mense wend hulle ongelukkig tot dwelms om net vir ‘n rukkie te vergeet.

Waarvan sal hulle wil vergeet? Mishandeling? Verwerping? Hul negatiewe gedagtes en lae selfbeeld? Knak die skaam kind miskien onder die intense groepsdruk van die groter en gewilder kinders? Voel die slim kind in die klas druk om die toppresteerder te bly?

Volgens www.psychologytoday.com is een van die mees algemene redes hoekom mense dwelms gebruik, eensaamheid. Verslaafdes het dikwels ‘n tekort aan positiewe menslike kontak, wat dan na dwelmgebruik as hul coping mechanism lei.

Jy kan argumenteer dat sommige dwelmverslaafdes dikwels geld by familielede steel en/of gewelddadig raak en dit is ‘n baie geldige punt. Daar is egter ‘n oplossing en Portugal het reeds vir ons die oplossing gebied.

In 2001 het Portugal alle dwelmmiddels wettig gemaak. ‘n Gevolg hiervan is dat dwelmbruik-gevalle drasties gedaal het. Die rede hiervoor is dat niks meer ondergronds plaasgevind het nie en omdat alle dwelms meer toeganklik was, was dit makliker om stop te sit. In plaas daarvan dat die dwelmverbruiker tronk toe gestuur is, is hulle na ‘n paneel gestuur wat sou bestaan uit ‘n dokter, ‘n prokureur en ‘n maatskaplike werker wat saam sou besluit op gepaste behandeling. In plaas van tronk toe, is dwelmmisbruikers na rehabilitasiesentrums gestuur en sodoende is die probleem werklik by die wortel uitgeruk en hanteer.

Dit is tyd dat ons ophou om dwelmverslaafdes as kriminele te beskou, maar eerder as mense met ‘n probleem. Hoe kan jy verwag dat ‘n probleem opgelos kan word as jy nie bereid is om die mense wat daaronder ly, te help nie?