Foto: Unsplash

Of dit die “skilderye” op die mure van grotte is en of dit die wêreldberoemde Jackson Pollock se Autumn Rhythm is: mense het nog altyd en sal ook altyd die behoefte om hul gevoelens uit te druk, hê.

Die koms van nuwe tegnologieë, soos digitale fotografie en animasie, het die historiese medium op ‘n ingewikkelde plek geplaas. Digitale kunsvorme het ordentlik vlam gevat omdat die internet so bekend geword het. Dit is vir ‘n kunstenaar makliker om ‘n portret te maak op ‘n digitale manier eerder as op die tradisionele wyse.

Volgens Harry Brandford is onder andere grafiese ontwerpers en animators die kunstige beroepe met die blinkste toekoms.

So, hoekom is die skilder-tegniek steeds relevant?

Kurt Beers, direkteur van die London Gallery Beers Contemporary het die volgende gesê: “Ons gebruik skilderye om verhale van tyd, plek en geskiedenis te vertel oor ‘n tydperk van duisende jare en ons sal vir vele jare dit nog so doen. Om te skilder, is uniek; net soos elke skildery ‘n unieke beeld is. En die wonder daarvan – anders as dié van fotografie en digitale kuns – bly absoluut onbetwis.”

Die vraag wat al vir dekades by kunshistorici en -kritici spook, is die volgende:

“Is die verf-medium uitgeput en dood?”

Almine Rech, Franse kunshandelaar, het die volgende vir die Financial Times gesê: “Destyds het mense die toekoms van skilders bevraagteken. Hulle het gesê dat video- en fotografie die toekoms van kuns is. Ons word gereeld oorval met die “geraas” van virtuele werke, maar die skilder-tegniek is nooit regtig verby nie.”