Foto: Columbia Pictures

Greta Gerwig se filmverwerking van Little Women is amper ‘n jaar gelede uitgereik en dit gons steeds daaroor. Alhoewel hierdie produksie ‘n fees vir die oë is, met treffende kinematografie en goeie akteurs, ontvang dit meer roem en ophef as wat dit verdien.

Hier is spoilers, maar die verhaal van die March-sussies is, tot my verdediging, reeds meer as ‘n honderd jaar oud. Jy het genoeg tyd gehad om deur spoilers geskok te word.

Daar is ‘n paar dinge van hierdie film wat my pla, maar een van sy hoofprobleme is seker die nie-chronologiese vertelling. Dit het eintlik twee tydlyne wat saamsmelt - dié van die susters se kinderdae en dié van die “hede” (1868). Die verhaal is opgesny, geskommel en aangelas in ‘n poging tot oorspronklikheid (wat verstaanbaar is, want dit is ‘n groot uitdaging om ‘n klassieke verhaal wat verskeie kere verwerk is, te herskep sonder om te ver van die oorsprong te dwaal), maar dit lei tot ‘n verwarrende legkaart van gemengde gebeure.

Die enigste ding wat ons tussen die hede en verlede laat onderskei, is die kleurskemas van die verskillende tydperke. ‘n Oranjegeel is altyd teenwoordig in die verlede en 1868 se hoofkleure is blou en grys. As jy egter nie die tonele se kleurpalette raakgesien het nie en jy het nie die boek gelees of vorige filmweergawes gekyk nie, is die kanse dat jy nie by die terugblik-styl vertelling aanklank sou vind nie, redelik goed.

Die volgende probleem is Florence Pugh in die rol van Amy March. Pugh vertolk beide volwasse Amy en klein Amy (die jongste sussie). Dit dra by tot die verwarring tussen tydperke, maar laat ‘n mens ook ietwat skaam kry om te sien hoe ‘n in-die-twintigs Pugh melodramaties toneelspeel om op te maak vir die feit dat sy nie twaalf is nie.

Little Women het ‘n Oscar vir beste kostuumontwerp gewen. Die kostuumontwerper, Jacqueline Durran, het menigde historiese films se kostuums ontwerp en daardie films se tydperke akkuraat uitgebeeld. Little Women is ongelukkig nie een van daardie films nie. Die kostuums van die vier susters boots hul persoonlikhede na (goed so, welgedaan), maar dit is omtrent hoe ver die Oscar-waardigheid strek. Die kostuums is nie histories akkuraat nie en daar is ‘n vermenging van dekades uit die 1800’s wat die verskil tussen hede en verlede nog minder herkenbaar maak. Boonop is daar kuiwe, paadjies wat skuins oor die kop loop en half-los hare wat in die bries waai, maar grens-aan-geen hoedens of kappies in sig nie.

Ek is bly dat Gerwig meer oor Beth en mnr. Laurence se verhouding uitbrei het en Beth se karakter meer diepte gee as die 1994-weergawe, maar die hartseer van haar dood is versag deur die rondspring tussen tydperke.

Laastens spreek ek dít van Little Women aan wat my die meeste pla: Professor Bhaer. Die film wys nie ontwikkeling tussen professor Bhaer en Jo nie. ‘n Belangrike keerpunt in hul verhouding (waar hy die stories wat sy skryf, kritiseer en haar sodoende inspireer om uit die hart te skryf, liewer as vir sensasie) word afgerammel. Hy sê slegs dat hy nie van haar werk hou nie, maar verduidelik nooit hoekom nie. Ons sien nooit hoe hul vriendskap in romanse verander nie en ons sien nie hoe hulle mekaar laat groei nie.

Daar is blykbaar twee interpretasies vir die einde van hierdie Little Women. Een is dat Jo met professor Bhaer trou. Die ander is dat Jo net die romantiese einde geskryf het sodat haar boek gepubliseer kon word en dus nie werklik trou nie.

Die eerste interpretasie werk nie. Dit lyk ongemotiveerd dat Jo en professor Bhaer sou wou trou, want die film wys geen sterk verhouding tussen die twee nie. Professor Bhaer word as ‘n vlak, twee-dimensionele karakter uitgebeeld. Louisa May Alcott pirouette seker in haar graf.

Die ander interpretasie werk ook nie, want Jo praat met haar ma oor hoe eensaam sy is en oorweeg selfs om Laurie se huweliksaanbod te aanvaar net sodat sy nie alleen hoef te wees nie. Ek verstaan dat Gerwig Alcott se oorspronklike bedoeling wou eer (dat Jo nie trou nie), maar ek is van mening dat Jo en professor Bhaer bymekaar hoort. Gerwig onderskat egter die belangrikheid van Bhaer se verhouding met Jo. Deur Bhaer se rol in die verhaal te verklein, belemmer Gerwig eintlik Jo se karakterontwikkeling.

Little Women is ‘n pragtige film en ‘n visuele meesterstuk, maar bevat foute wat liefhebbers van die klassieke verhaal onderweldig sal laat voel ná al die ophef. Ek besef historiese akkuraatheid en volronde ontwikkeling in karakter is vir sommige kykers nie belangrik nie: soms is estetika genoeg, maar vir ander sal Little Women ‘n teleurstelling wees. Vergelyk hierdie Little Women met die 1994-weergawe en jy sal sien wat ek bedoel.