Foto: Unsplash

Vir eeue lank speel musiek ’n kardinale rol in kultuur, sosialisering en selfs werk. Deesdae begin baie mense hulle dag se werk deur eers hulle oorfone in te prop. Party sweer dat musiek hulle fokus en werksgehalte verbeter, terwyl ander stilte verkies. As gevolg van die verskeie menings wat die ronde doen, het menigte wetenskaplikes al ondersoek ingestel om te bepaal wat die verhouding tussen musiek en werk is.

In 1993 is ’n wetenskaplike studie gepubliseer wat bevind het dat nadat deelnemers vir 10 minute lank na een van Mozart se sonates (K. 448) geluister het, hulle ruimtelike take, soos om papier te vou, beter kon verrig. Alhoewel daar geen bewyse was dat Mozart se musiek ’n persoon se IK beïnvloed nie, het die media die wanbegrip versprei dat Mozart jou slimmer maak (fopnuus is nie iets nuuts nie!). Vele artikels en boeke is oor die Mozart-effek geskryf en selfs CD’s is bemark om vir ongebore babas te speel. Alhoewel die Mozart-effek grootliks ongegrond is, word dit algemeen geglo dat dit voordelig is om na klassieke musiek te luister terwyl jy leer of werk.

Die vraag is dus, is daar enige wetenskaplike bewyse om hierdie bewering te staaf? Wetenskaplikes het die volgende bevind ter ondersteuning van hierdie bewering:

  • Musiek beïnvloed ons gemoed. Die waarskynlikste rede waarom die deelnemers in die 1993-studie beter gevaar het nadat hulle na Mozart se sonate geluister het, is dat die sonate hulle gemoed verbeter het. Volgens wetenskaplikes maak die tipe musiek egter nie saak nie. Dit hang van jou persoonlike voorkeur af. Party wetenskaplikes stel voor dat jy vir 15 – 20 minute na opgewekte musiek luister voor jy begin werk.
  • Dit is veral voordelig om na musiek te luister tydens vervelige, eenvoudige take. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die BBC ’n program geloods waartydens hulle twee keer per dag opgewekte musiek in weermagsfabrieke gespeel het. Die fabriek se uitset het met tot 15% verbeter vir die sowat uur na die musieksessies. Wetenskaplikes het sedertdien bevind dat dit behulpsaam is om na komplekse musiek te luister, terwyl jy ’n vervelige taak doen, omdat dit jou brein aflei en besig hou.
  • Mense wat eksterne stimulasie verkies (gewoonlik dié wat maklik verveeld word) trek die meeste voordeel uit musiek tydens werk.
  • Jou gunstelingmusiek help jou baie meer fokus as irriterende agtergrondgeraas.

Jy moet egter versigtig wees vir die volgende:

  • Musiek wat kompleks en onvoorspelbaar is, soos jazz, kan meer ingewikkelde take moeiliker maak, want dit plaas ’n las op jou werkende geheue.

  • Moenie na nuwe musiek luister terwyl jy werk nie. Dit lei jou brein af.

  • Musiek met lirieke kan jou minder produktief maak as jy taalgebaseerde take verrig. Een studie het bewys dat dit egter nie ’n kandidaat se vermoë om basiese wiskundige te doen, affekteer nie. Kies dus maar liewer Beethoven bo Taylor Swift, terwyl jy opstelle moet skryf.

Op die ou einde hang dit af van wat vir jou werk. Mozart het ongelukkig nie magiese magte nie, maar ten minste blyk dit dat hy van ons met ons Bloemfontein-opstelle kan help.

Volgens mnr. Visser, ‘n kenner van die effek wat Mozart se musiek op die menslike brein het, moet die krag van hierdie musiek nie onderskat word nie. In Duitsland is Bach en Mozart gespeel waar koeie gemelk is en baie meer melk is gelewer. In groen tonnels is Barokmusiek vir die plante gespeel en die plante het na die luidsprekers toe gegroei. Dokters gebruik Mozart tydens operasies: hulle het bevind dat pasiënte minder pyn ervaar en gouer herstel. In September 2020 is ‘n vleuelklavier in ‘n Italiaanse operasieteater bespeel, terwyl ‘n baie groot gewas uit ‘n jong kind se rug verwyder is – hy het volkome herstel. Dit is getoets met Wiskunde: onderwysers wat die vak nasien en na Mozart luister, merk vinniger en gee makliker punte. (Dalk ‘n goeie Kersgeskenk vir jou Wiskunde-onderwyser!) Studente leer Wiskunde makliker as hulle na Mozart luister.