Foto: Unsplash

Verbeel jou die volgende: dis ‘n Vrydagaand. Jy en jou vriende sien nou al weke lank uit na die einde van die eksamens. Geen meer Wiskunde-formules swem in jou kop rond nie. Daar is geen meer Ekonomie-definisies wat jy oor en oor vir jouself herhaal nie. Dit is net jy, jou vriende en amper twee maande van sonskyn en vryheid. Julle het reeds besluit om Prison Break te binge en pizza te bestel. Die voordeurklokkie lui en jy gaan haal die pizza, maar iets voel… verkeerd. Jy skud egter daardie nare gevoel af, betaal vir die pizzas, gaan weer binnetoe en verdeel die pizzas tussen jou vriende.

Dan gebeur dit.

Een van jou vriende maak hul pizza-boks oop en jy sien dit: Hawaiian pizza.

Die vraag is: behoort pynappel op pizza? Die eeue-lange debat word vandag beantwoord. Om seker te maak dat hierdie artikel 100% akkurate inligting weergee, is daar van ‘n hoogs betroubare bron gebruik gemaak, naamlik Instagram polls.

Die konsensus is…

Pynappel-pizza is hier om te bly!

Volgens my navorsing is 61% mense van mening dat pynappel definitief op pizza behoort.

Een leerder argumenteer dat pizza basies dieselfde konsep is as brood en as piesangbrood (die kombinasie van vrugte en brood) aanvaarbaar is, hoekom sal pynappel op pizza dan onaanvaarbaar wees?

‘n Anti-pynappelpizza-leerder sê egter dat warm pynappel nie juis lekker is nie. ‘n Ander sê dat die teksture bloot nie saamwerk nie.

Talle ander leerders is van mening dat die soet-suur smaak van pynappel die sout smaak van pizza komplementeer, terwyl ander voel dat dit juis daardie eienskap is wat hulle “nee dankie” laat besluit het.

Daar is egter ook dié wat voel dat die argument sinneloos is. Hoekom is ons besig om te stry oor wat op iemand anders se pizza is? Eet pynappel op pizza as jy daarvan hou en los dit as jy dink dis sleg. Kan ‘n mens regtig met daardie stelling argumenteer?

(Anonimiteit word streng toegepas om te verseker dat alle vriendskappe behoue bly.)