Foto: Carel Stander (Standerphotography)

Het jy jouself onlangs gevang wonder waar die tyd hierdie jaar heen gegaan het? Wat het van die prentjie wat jy van jou lewe ’n jaar gelede gehad het, geword?

Almal het 2020 verskillend ervaar. Binne ’n week is ons in die alternatiewe werklikheid van die grendeltyd ingestoot. Vir party van ons was die grendeltydperk ’n geleentheid om te rus, terwyl ander met ongekende uitdagings gekonfronteer is. Wat egter konstant vir almal was, is dat ons moes leer hoe om aan te pas en vorentoe te beweeg, ten spyte van die chaos wat ons omring het. Soms het ons chaos nodig om onsself te vind.

Met dié aanpassing kom groei. Dit is ’n redelike stelling om te sê dat die pandemie ’n merk op almal van ons gelaat het. Ons oë het oopgegaan vir die pyn van ander en hoe dinge wat ons as vanselfsprekend ervaar, struikelblokke in baie mense se lewens is. Jy het dalk ook jou eie struikelblokke, wat voorheen onmoontlik voorgekom het, oorkom.

Net soos wat ons aangepas en gegroei het, het die Herout ook. Die Herout het vanjaar oorgeskuif na ’n digitale platform. Hierdie is die tweede digitale uitgawe en die eerste met ons as die nuwe ko-redaktrises. Ons probeer om oor die volgende jaar voort te bou op die vordering van die vorige redaksie en die Herout so veel as moontlik te ontwikkel en te laat groei.

Mag julle ’n geseënde feestyd hê en 2021 verfris aandurf. Ons sien uit om julle volgende jaar weer te sien.

Renke Lorio & Emma Olivier