Foto: Shianne Brand

“A transition to clean energy is about making an investment in our future.” – Gloria Reuben

Die meeste van julle het al die vreemde swart panele op ons skool se dak raakgesien. Al ooit gewonder waarvoor dit eintlik gebruik word?

Die skool se besluit om sonpanele aan te koop, is op twee aspekte gebaseer: koste-effektiwiteit en DF se “Gaan Groen”-inisiatief. Die geld wat die skool spaar in terme van elektrisiteit word gebruik om die panele af te betaal. Boonop word enige oortollige energie wat deur die panele geproduseer word, terug aan die regering verkoop! Dit is ‘n wen-wen- situasie.

“Groen energie” is ‘n idee wat oor die afgelope paar jaar baie momentum gekry het. Die gebruik van “skoon” energie wat deur die sonpanele opgewek word, gaan hand aan hand met DF se missie om volhoubaar te lewe. Die sonpanele het ‘n leeftyd van meer as 25 jaar. Dit beteken dat die skool die sonpanele aangekoop het met die oog op die toekoms.

Ons kan ook met absolute sekerheid sê dat die panele hulself goed van hul taak kwyt. Op ‘n mooi sonskyndag voorsien die sonpanele omtrent 70% van die skool se elektrisiteit!

Saam met die Zero Waste-projek is die nuwe sonpanele nog ‘n merkwaarige manier hoe ons ‘n positiewe verskil in die wêreld maak. Die skool het selfs nóg idees vir volhoubaarheid in die pyplyn en moedig alle leerders aan om hulle “groen idees” met die skool te deel. Onthou, die sukses van môre hang af van dít wat jy vandag doen.