Foto: Megan Weideman

Dié pandemie voer nog steeds die botoon en laat sekerlik al die atlete en sportfanatici in ellende dompel met slegs helder heimwee van ou wedstryde om die gemoed ligtelik te bevredig. Maar moet tog nie verder treur nie. Danksy al die sportpersoneel is daar besluit om ‘n positiewe wending te neem, sodat die sportgronde weer lewe kan kry (en so ook die leerders).

DF spog reeds met ‘n silwer medalje by MTBS en 21 atlete in die WP-atletiekspan. Die jaar neem egter ‘n skewe draai en planne om voort te bou op die moedgewende seisoen, moes eers opsy gesit word. Atlete het oefenprogramme gedurende die grendeltydperk begin volg om gereed te maak vir die seisoen wat voorlê. Daar is reeds aansoek gedoen om oefeninge op die skoolgrond te hervat teen die afskop van die vierde kwartaal. Amptelike voorbereiding sal binnekort plaasvind om op die atlete se huidige fiksheidsbasis te bou vir MTBS wat vroeg in Maart 2021 sal geskied.

Volgens me. Gerstner, byvoorbeeld, is die meisie-hokkiespanne ook hard aan die werk en gereelde toesig word op elke speler se fiksheid en speelvermoë gehou via video’s en statistieke wat aan die afrigters gestuur word. Dit blyk dat almal honger is om weer op die veld te kom en eenvoudig net die spel aan die gang wil kry. Dit is juis die tipe optimistiese gedrag waarop afrigters aandring om vorentoe te druk en van ‘n ongeluk ‘n sukses te maak.

“As elke DF-sportman en -sportvrou hul talent en volle gewig agter ons visie gooi, sal ons as 'n skool baie mooi presteer. Ek glo ons beste tye lê nog voor!” sê mnr. Voigt.