Foto: Unsplash

My pa sê altyd: “Kar bestuur is soos fietsry, as jy dit eers onder die knie het, dan sal jy dit nooit weer vergeet nie. Dit kom later outomaties.” Van bloot in die kar ry, tot nou self die stuur vat, is ’n groot aanpassing en dikwels senutergend, maar baie opwindend. Maar hoe gaan ’n mens te werk?

’n Groot stukkie wysheid om te onthou, is dat almal foute maak en dat jy dit nie die eerste keer gaan regkry nie. Jy kan altyd by ’n bestuurskool inskryf en vir lesse gaan, maar die goedkoopste en effektiefste manier om lesse te neem, is by jou ouers of familielede! Probeer ’n spesifieke tyd kry wanneer jy en jou ouers ‘n bietjie kan gaan ry.

Die eerste belangrike stap is om die tegniese aspekte van ’n motor te leer ken. Jy moet weet waar is die rem-, die koppelaar- en die petrol-pedale. Maak seker jy weet hoe om die kar aan te skakel en hoe die ligte, flikkerligte, spieëltjies en handrem werk. Dit is die maklikste deel om hierdie tegniese aspekte baas te raak.

Onthou altyd, ’n kar is nie ’n speelding nie. Dit is soos die see: jy moet altyd respek hê daarvoor. Soos ons altyd van kleins af geleer word om mooi links en regs te kyk, moet jy ook as bestuurder altyd ander karre in ag neem en ook nog steeds links en regs kyk. As bestuurder het jy jou eie en ander mense se lewens in jou hande, so dis van kardinale belang dat jy soveel as moontlik kennis opdoen en jouself so goed moontlik probeer toerus met ervaring en geduld.

Karre het óf ’n outomatiese ratkas, óf ’n handratkas. Die handratkas is definifief die moeiliker een om te leer en verg ’n groter konsentrasie, maar dit is ’n beter keuse om te leer bestuur in ’n kar wat ’n handratkas het, want dit verbeter jou konsentrasie en maak dit makliker om later oor te skakel na ’n outomatiese ratkas, indien jy dit verkies.

Vir jou leerlinglisensie, wat jy op 17-jarige ouderdom kan kry, sal jy al die padtekens en padreëls moet leer en kennis van die kar moet opdoen. Dit is ’n teoretiese eksamen wat jy sal aflê. Jou lisensie kry jy dan op 18, nadat jy die praktiese toets geslaag het. Die sukses van leer bestuur lê in oefening, oefening en nog oefening.

Onthou, ’n lisensie maak jou nie ’n goeie bestuurder nie, dit gee bloot net erkenning dat jy die wettige vereistes om korrek te bestuur, suksesvol geslaag het. Leer bestuur is ’n reis wat baie opwindend is, so sit jou hande op 10 en 2, trap die petrol en koppelaar en geniet die reis!