Foto: Emma Olivier

“Ek lyk nooit mooi in foto’s nie,” is iets wat ek al gereeld gehoor (en soms gesê) het. Troos jouself hieraan: jy is mooi, al voel dit nie altyd so wanneer jy jouself in foto’s sien nie. As jy geneig is om ongemaklik voor die lens te voel, is jy nie die enigste een nie. Soms is dit die persoon agter die kamera se skuld, maar ander kere is dit bloot jy wat nie weet hoe om selfversekerd te lyk nie. Ek is nie ‘n model nie, maar ek het namens al ons hasie-stomgeslaan-in-die-kameraflits-siele ‘n bietjie nagevors en ‘n paar poseringswenke bymekaargemaak sodat jy iets gereed kan hê wanneer die sluiter volgende keer toemaak.

Gesigsuitdrukkings

Jy kan nie verkeerd gaan met ‘n glimlag nie, maar dan moet dit natuurlik wees. Probeer om regtig te lag (selfs al asem jy net liggies uit), sodat die lag in jou oë wys. ‘n Strak gesig is beter as ‘n gedwonge glimlag, maar jy kan natuurlik ‘n neutrale, ernstige of emosionele gesigsuitdrukking ook toon. Verskillende gesigsuitdrukkings werk egter vir verskillende mense (dit klink simpel, maar dit help as jy in die spieël oefen), maar oorweeg dit om die duckface te vermy. Dit is dood. Los dit.

Liggaam en beweging

Dit lyk nie lekker as jy net daar staan en niks doen nie. Dit lyk veel meer vleiend as jy hoeke en kurwes met jou liggaam skep. Plaas byvoorbeeld een voet voor die ander om jou heupe te beklemtoon en plaas jou gewig vorentoe of agtertoe om ‘n meer vloeiende figuur te skep. Strek jou arms uit of leun kant toe vir ‘n spelerige houding. Stoot een skouer vorentoe of sit jou hande op jou heupe.

Dit is gewoonlik vleiend as jy jou ledemate weghou van jou liggaam. Skep opening tussen die arms en liggaam waar lig deur kan kom.

As jy wil hê dat dit moet lyk asof jy stap, is dit dalk makliker om vorentoe en agtertoe te wieg, liewer as werklik te stap. Dit help jou om ongemaklike posture te vermy. As dit moontlik is, help dit as jy vir die fotograaf vra om die burst-keuse op ‘n selfoon te gebruik om natuurlike bewegings vas te vang.

Hande en arms

Speel met jou hare. Gebruik jou arms om jou gesig te raam (plaas byvoorbeeld jou arms bo jou kop).

Speel met jou vingers, terwyl jou arms gebuig is en jou onderarms teen jou middel rus. Dit skep ‘n gemaklike, vleiende houding, liewer as reguit arms met gevoude hande. Wys ‘n hand na die kamera, waai of rek uit na die kamera asof jy die kyker nader trek.

Ironic poses

Ignoreer al die bogenoemde as jy “ironies” wil wees. ‘n Ongemaklike vredesteken, thumbs-up of “klasfoto-glimlag” sal dan ook goed werk.

As jy egter vir regte klasfoto’s moet model speel, is daar nie raad nie. Klasfoto-poseer is ‘n fyn kuns wat min kan bemeester.